Tuesday, July 31, 2012

Dinsdag 31 Julie 2012

Ons is vroegoggend wakker - die mans pak vir hulle proviand vir die boot vir die visvang. So 7:20 vertrek ons kaai toe - ek bestuur om gewoond te raak aan die regterkant bestuur - gelukkig is daar min verkeer en die geheue skop vinnig in.

Ek en Nelia kom terug na ons die mans afgelaai het by die kaai vir hulle dag lange ondervinding. Ons was die wasgoed en ek sit en werk terwyl Nelia haar nuwe Kindle geniet.

Ongeveer 13:00 vertrek ons dorp toe waar ons ronddrentel rondom die kaai en al die interessante winkeltjies beloer. Ek is nou al heel behendig met die regterkant bestuur en nie eers meer benoud om te bestuur nie - gelukkig help die plattelandse atmosfeer om die stress van die verkeerde kant bestuur makliker te maak.

Ons eet 'n ligte middagete en ongeveer 3 uur ry ons winkels toe om die nodige melk en brood te koop. So 4 uur bel die mans en ons kry hulle by die kaai. Hulle het 'n heerlike dag op die see gehad - blykbaar was dit windstil en verskriklik warm. Hulle het klomp visse gevang maar meeste teruggegooi omdat ons nie juis fasiliteite het om dit te stoor of mense het om dit voor te gee nie. John vang 'n groot Grouper en Derick 'n paar Key west Permits.

Die Grouper wat hulle teruggegooi het het seker 'n goeie 30-35kg geweeg .. dit is nou as ek moet skat ...

Die manne is stokflou en na 'n laatmiddag swem in die swembad gaan ons nou 'n vleisie op die kole gooi .. ek is oortuig dat hulle nie baie laat vanaand gaan hou nie .. die son het hulle alleen gevang op die blou see en die oe hang maar laag.

Monday, July 30, 2012

Die reis tot in Key West

Ons vertrek Saterdag 15:30 se kant lughawe toe - half pad op pad lughawe toe besef Derick sy beursie le in die kombuis - gelukkig is Christoff (Chris se een tweeling pel) by ons huis en ons bel hom en se hy moet kom met die beursie ... by die lughawe toe ons wil inboek kom ons agter Derick se visa is in sy ou paspoort ... genade tog .. daar moet Christiaan hulle wat ons moes kom aflaai toe nou eers die paspoort by ons huis gaan kry en weer terug ry OR Tambo toe ..

Na ons ingeboek het leen Derick eers my Nedbank kaart om lounge toe te gaan, ek gebruik my goue kaart om John in te kry en daarna smokkel ek vir Nelia ook in - so sit ons lekker en kuier en kyk hoe die Stormers verloor teen die sharks voor ons bord.

Die vlug Washington toe stop eers na 8 ure in Dakar - sug - net toe mens lekker begin slaap toe moet jy wakker word om in die hitte rond te wag voor ons weer opstyg Washington toe ... nog 8 ure later is ons uiteindelik in Washington .. ons is gelukkig heel voor in die ry by 'customs' en ons tasse kom ook eerste uit .. Ons gaan dadelik op om ons tasse in te boek af Keyes toe - die vlug van Atlanta af is vertraag maar gelukkig boek die Delta tannie ons in op 'n vroeer vlug .. ons arriveer so ongeveer 10:40 (4:40pm SA tyd) in Atlanta waar ons moet wag tot 3pm vir ons volgende vlug. Ons eet 'n duursame lughawe 'lunch' want die roereiers van die SAA vlug hou ook net so lank. In Georgia is daar egter 'n reel dat alkohol nie voor 12:30 bedien moet word nie - ons hang rustig rond in die Budweiser restaurant / bar tot 12:30 voordat ons ons dors kan les met 'n heerlike bier ..

Ongeveer 2 uur se kant kry ons die trein na terminaal C om ons laaste vlug te kry af na die Keyes toe .. ek is teen die tyd moeg en pass behoorlik uit toe die wiele die aarde verlaat. Die vlug is ongeveer 2 ure voordat ons met die ongelooflikste mooiste gesig uit die lug begroet word met pragtige blou groen see en spikkeleilande .. die Keyes is 'n reeks eilande wat ongeveer 160km in die see in le as 'n string eilande en met 'n snelweg verbind word aan die suidepunt van Florida. Ons is te bly om ons Jeep Cherokee op die lughawe te kry en gelukkig is ons Condo 5 minute se ry van die lughawe af. Wat 'n pragtige plek met al van 'n luukse waarvan mens kan droom. Skottelgoedwasser, wasmasjien en 'n ongelooflike mooi uitsig oor die see. Dit is ook gerieflik langs die swembad wat privaat is ..

Ons begin uitpak net om agter te kom John en per abuis 'n verkeerde tas gekry - wat 'n ramp - sy tas moes in Washington omgeruil gewees het - gelukkig is die winkels nog oop en ons kry behalwe proviand sommer 'n paar broeke en hemde om hom oor die ergste te help. Vir aandete ry ons af met die bekende Vidal straat waar dit lyk asof die mense nie weet dat dit Sondagaand is nie .. dit is 'n lewendige spul met kroee om elke hoek en draai en lewendige musiek om mens te vermaak. Wat 'n gesig. Ongelukkig is ek so flou dat die heerlike aandete heeltemal by my verby gaan. Ek is te bly toe ons ongeveer 11pm terug is by die huis om in die bed te klim en 8 ure te slaap sonder om te blik of te bloos.

Maandag vroeg is ons strate toe om toerusting te koop vir Derick en John se bote .. ons gaan loer waar hulle die volgende oggend moet wees vir hulle visvang trip en ry bietjie rond in die dorp om ons self te orienteer. Die eiland is besonders klein en dit neem minute van een hoek tot 'n ander. Die mense is ongelooflik 'laid back' en als gebeur werklik teen 'n stadige spoed. Ons het sommer ontbyt by die huis gemaak en vir aandete maak ek vinnig spaghetti bolognaise. Dit is werklik ongelooflik goedkoop om 'n condo te huur .. behalwe vir die spasie spaar mens baie op etes veral omdat die basiese goed soos sout, olie en skoonmaakmiddels klaar beskikbaar is .. nou sit die mans en kuier op die stoep en ek voel hoe my oe stil stil begin toeval ... heeltemal te rustig .. miskien sal ek skelm in die bed gaan klim :) ...