Wednesday, August 15, 2012

Seattle 8-12 Augustus 2012

Ons vertrek Woensdag Seattle toe ... wonder wat kan mens se oor 6 ure in die lug waar jy soos 'n worsmasjien ingedruk is tussen mense ... laat mens nogal aan 'n skaapdrukgang dink ... ons arriveer so 18:00 (nadat ons 3 ure verloor het) en kry James, John en Knut vir ete so 20:00 ... ons is egter nie great geselskap nie want ons gaap seker die helfte van die tyd - ons klokke is nog in New York en daar is dit al 23:00 ..

Donderdag het ons 'n hoog suksesvolle werkswinkel en Vrydag bestaan maar net uit sessies bywoon. Saterdag na 'n vergadering kry ons darem so bietjie tyd om Seattle te verken en ons ry met die ferry na een van die eilande toe - hier kuier ons tot so 14:30 waarna ons stadig terug gaan hotel toe en die aand vir die kongres ete.

Sondag reis ons vroeg vroeg terug Washington DC toe vir 'n vergadering die aand met Eddie van die IEEE - weer 3 ure terug in tyd - ai ons horlosies sukkel om by te bly.

Maandagoggend loer ons gou in by die Space Museum voor ons hotel toe gaan om die terugtog te begin .... 18 ure se reistyd later is ons uiteindelik so 5pm SA tyd Dinsdag weer terug in die land ... moeg gereis en platsak ...

Friday, August 10, 2012

5-7 Augustus : New York

Ons is Sondag 5 Augustus vroeg oggend alreeds uit die vere om die vlug te kry van Key West af na Atlanta en dan New York. Vlieg bly maar vlieg en ons arriveer so ongeveer 4 uur by ons hotel in New York. Die ‘location’ is ongelooflik .. 52nd Avenue West (tussen 6th en 7th) in Manahattan wat beteken ons is sentraal tot als wat ons wil sien in terme van Central Park, Time Square en al die attraksies in die omgewing.
Ons gaan stap die aand in Time Square rond – wat ‘n gesig – dit is maar altyd spesiaal om na ‘n lang ruk weer Time Square te beleef – ons lyk soos landopmeters soos ons foto’s neem van die stunning advertensieborde wat leef – veral na donker is dit net ongelooflik.
Ek en Nelia koop ‘n 2 dae dagpas om die hop on hop off busse Interlink te ry. Maandag klim ons dus vroeg op ‘n bus en doen die roete tot by Macy’s waar ons ‘n paar goedjies wat op ons inkopie lys is koop. Die res van die toer is baie oulik en ons sien al die bekende plekke in  New York – Empire State Building, Wall Street – die nuwe twin towers, Gound Zero, die dokke waar mens ‘n Ferry gratis kan kry na Statue of Liberty en nog baie meer .. ons klim by die Rockefeller sentrum af om te stap om die mans te kry wat by die visvangwinkel ‘n paar goetertjies gekry het. Aurona kom so ongeveer 5 uur by die hotel. Ons ry almal na ‘n tegnologie winkel toe waar ons ‘n paar elektroniese goed kry.
In die omgewing van 7:30 pm stap ons Time Square toe om Evita te gaan kyk – dit was goed maar ek is effens teleurgesteld – miskien het ek meer verwag omdat ek nie werklik die storie geken het nie. Ons stap terug hotel toe en kuier tot na 12 in ons kamer waar die mans nog Brandewyn en Whiskey oor het wat ons saam geneem het US toe.
Dinsdag klim ek, Aurona en Nelia weer 8am op die bus om weer die sirkeltoer te doen – ons stop vir ‘n koffie langs die pad – wat ‘n fout  - daar moet ons 35 minute vir die volgende bus wag .. Ons gaan eet ‘n heerlike middagete by die bekende Forrest Gump restaurant .. Derick voel nie so goed nie en gaan vang ‘n slapie terwyl ons rustig yskasmagnete en t-shirts shop. Aurona, Nelia en John gaan kyk die sonsondergang van die Rockefeller gebou af terwyl ek en Derick ‘n addisionele tas gaan soek in Downtown. Na ‘n deli aandete is ons so ongeveer 11 uur in die bed reg vir ons volgende fase van die reis waar Derick hulle terugkeer en ons na Seattle vertrek.

Sunday, August 5, 2012

Saterdag 4 Augustus 2012

Ons laaste dag in Key West begin maar stadig – ons was die wasgoed wat nog uitstaande is en nadat ek besef die swembad water is bietjie koeler as vroeer die week en dus gebruik ek die geleentheid om voor ontbyt en na ontbyt bietjie te swem. Die see water is vandag besonders blou .. die lug is helder na ‘n welkome bui reen wat die vorige dag geval het.
Ons ry ongeveer 12:30 om die mans af te laai by die kaai vir hulle middagvisvangsessie.
Die skipper maak ‘n paar visse skoon van hulle vorige vangs en voer dit vir die visse in die kaai .. In die kaai self is daar die grootste denkbare Tarpens .. mens mag hulle glad nie vang in die kaai nie wat hulle so sort van beskerming gun.
Alhoewel die mans die vorige sessies saam met Gareth ('n oud Suid-Afrikaner) uitgegaan het, wil hulle bietjie diepsee toe gaan en gaan hulle uit op 'n groter 42 voet boot vir ‘n 4 ure sessie. Die boot is werklik groot en goed toegerus.
Ek en Nelia kry die laaste paar goetertjies wat ons nog wou kry by die supermark. Ons kry die mans weer 4 uur toe hulle terug is van die visvang af – die trippie was so bietjie van ‘n teleurstelling want die mans wat hulle uitgeneem het was beslis nie lus vir diepsee nie en het basies naby die kaai gebly. Hulle het 'n paar klein vissies gevang maar nie werklik wat hulle voor gegaan het nie.
Ons vertrek so net na 7 na die mees Suidelike punt in die USA. Nou was ek en Derick offisieel op 3 verskillende plekke op die mees Suidelike punt - Suid Afrika, New Zealand en Amerika.
Na ons besoek aan die mees suidelike punt vertrek ons na Duval straat waar ons ‘n paar yskasmagnete kry en na Sloppy Joes toe gaan vir aandete – Sloppy Joes is lewendig met ‘n band wat ou bekende liedjies speel – veral van Bob Dylan se musiek.
Ons stap so rondom 9 af in Duval straat en dit is net ongelooflik hoe lewendig dit is ..hordes mense kuier kuier in die strate en in en uit die verskeie kroee wat beskikbaar is ..
Ons is rondom 11 terug by die Condo waar ons begin pak, die laaste items was en rondom 12 uur ligte afsit … ons trippie in die Keyes het tot ‘n einde gekom … wat ‘n onvergeetlike ondervinding …

Saturday, August 4, 2012

Vrydag 3 Augustus 2012

Vandag was ongelooflik rustig - dit was heerlik om net vir een daggie bietjie af te vat en niks anders te doen as 'n laat ontbyt te eet en te rus nie .. ons het so 13:00 dorp toe gegaan om Derick en John se Lawrance masjien te gaan haal wat hulle gekoop het .. het bietjie gaan kyk hoe lyk die hoofstrand en 'n bier gedrink by Salute restaurant wat op die strand is .. dit is nogal 'n vreemde gesig om nie 'n enkele brander te sien nie - dit is sekerlik die gevolg van 'n windlose omgewing. Mense verbrand hulle self liederlik in die son en die wit strande is 'n ongelooflike mooi gesig.

Ons vertrek terug Condo toe waar die mans met hulle nuwe tool speel en ek en Nelia net 'splunge' voor die olimpiese spele. Aandete maak Derick sy vissie wat hy gevang het gaar en ek maak regte tjips sodat ons vis en tjips eet .. ek het ook vrugteslaai by die supermark gekoop .. dit is wat dit nogal besonders maak om so in 'n woonstel te bly - die kos is werklik baie goedkoper as mens dit self maak .. wel as ons nou per kilogram uitwerk wat die vis koop is hierdie stelling miskien nie waar nie ;)

Thursday, August 2, 2012

Donderdag 2 Augustus 2012

Dit is al Donderdag en dit voel asof die vakansie net verby vlieg - ons is kort na 6 wakker en begin reg maak om op te ry Key Largo se kant toe. Key West is die mees suidelike punt van Amerika en al die eilande is 160km ver met mekaar verbind tot by die 'mainland'. Ons vertrek ongeveer 7:20 en dit is verbasend dat dit al so vroeg oggend so warm is.

Ons ry so 'n uur tot ons by 'n tipiese Amerikaanse 'diner' kom. The wooden spoon. Dit is nou werklik 'n diner waar die 'locals' kom ontbyt eet en die tannie agter die toonbank al haar tyd spandeer om jou koffiebeker gevul te hou.
Die ontbyt is nie die grootste wat ons nog gesien het nie maar heel smaaklik. Die hele diner is vol lepels - die mure hang vol houtlepels van alle kleure en geure en groottes en kleintjies.

Ons vertrek seker na so 'n uur verder Noord - alhoewel dit eintlik oos is want mens ry reg in die son in. Dit maak natuurlik die neem van foto's omtrent onmoontlik. Die eilande is almal verbind met hoofweg nommer 1. Dit kom natuurlik tot 'n einde in Key West en verduidelik die t-hemde wat oral te koop is in Key West met 'n 1 myl teken op. Ons ry tot in Islamorado waar 'n groot sports / viswinkel is. Dit is ongeveer 20myl van Key Largo en nadat Derick hulle bietjie stock geneem het besluit ons om die pad terug aan te pak Key West toe.

Dit is natuurlik naby middagete en na so 30 myl loop ons hierdie interessante restaurant langs die pad raak - Anette's Lobster & Steak House. Ons was aanvanklik nie honger nie maar die middagete buffet vir 9 dollar 'n persoon ruik ongelooflik en ons laat ons verlei deur die reuke en geure ... die aartappelsop is iets uit die boeke en ek het selfs die resep uit die tannie gepers.


Derick is lekker lui en toe ons die laaste 50 myl aanpak toe moet ek bestuur. Die pad is nogal eentonig en die grooste deel mag mens nie vinniger as 45 myl per uur ry nie - dit is ongeveer 72km per uur - die pad is eintlik pragtig maar ons ploeter maar teen die stadige spoed terug Key West toe.

Ons arriveer so 2:30 terug in Key West waar ons eers gaan hoor of Derick hulle se bestelde visvangtoerusting gekom het, Oom John se tas afgehaal word en die nodige brood/melk vir die huis aangekoop word.

Nou sit ons rustig en loer na die olimpiese spele voor ons 'n vleisie op die kole gaan gooi....

Wednesday, August 1, 2012

Woensdag 1 Augustus 2012

Ons het gisteraand so vroeg uitge'pass' nadat die manne dood was van die heel dag in die son, dat ons vanoggend al almal 5 uur wakker gele het ... John en Derick het net na 5 opgestaan en koffie gemaak en teen 5:30 het ek maar saam met hulle gaan sit en kuier. Net na 7 het ons besluit om 'n entjie met die strand af te stap .. enige iets later as 7 uur in die oggend wil jy nie eintlik op die strand wees nie ..

Die sand is 'n growwe tekstuur en baie harder as wat ons sand is in Suid-Afrika. Ons stap tot net so na 8 en ek en Derick spring toe in die swembad wat net net 'n heerlike temperatuur is .. swem seker so 20 minute in die water rond voordat ons terug gaan Condo toe om 'n eier en bacon ontbyt aan mekaar te slaan.

John se tas is nog steeds verlore en ons besoek so rondom 9 die lughawe - ek is natuurlik hiper gefrustreerd want die laid back eiland benadering van die tannies agter die toonbank frustreer die wit waks uit my uit .. die logiese stap is natuurlik dat hulle net SAA in Washington moet bel met die tas se kode maar nee ... dit neem werklik 20 minute tot die tannie ons belowe sy sal nou verder aan die saak werk.

Ons vertrek dorp toe om bietjie retail therepy te doen .. stap rustig deur die stalletjies en hak toe vas in Sloppy Joes (http://www.sloppyjoes.com/) .. 'n lewendige kroeg waar ons heerlik sit en kuier en bier drink. So rondom 12 uur begin daar selfs iemand ghitaar speel en sing wat 'n aangename atmosfeer skep.

So rondom 1 begin ons terug slenter kar toe en koop 'n hele paar hemde by die 5 dollar winkel .. stap verder en gaan loer waar een van die groot passasersskepe by die hawe staan .. hordes mense klim op om seker vanaand of laatmiddag verder te vaar .. wat 'n gesig.

Ons is seker net na 3 terug by die Condo waar ons bietjie Olimpiese spele loer voordat ons ry om die mans af te laai by die kaai waar hulle Tarpon gaan 'jag' ..

Die manne vang vis tot net so 9pm se kant .. ongelukkig geen Tarpon nie net 'n paar ander visse .. maar vir hulle is dit natuurlik net nog 'n geleentheid om weer te gaan vang ..

Tuesday, July 31, 2012

Dinsdag 31 Julie 2012

Ons is vroegoggend wakker - die mans pak vir hulle proviand vir die boot vir die visvang. So 7:20 vertrek ons kaai toe - ek bestuur om gewoond te raak aan die regterkant bestuur - gelukkig is daar min verkeer en die geheue skop vinnig in.

Ek en Nelia kom terug na ons die mans afgelaai het by die kaai vir hulle dag lange ondervinding. Ons was die wasgoed en ek sit en werk terwyl Nelia haar nuwe Kindle geniet.

Ongeveer 13:00 vertrek ons dorp toe waar ons ronddrentel rondom die kaai en al die interessante winkeltjies beloer. Ek is nou al heel behendig met die regterkant bestuur en nie eers meer benoud om te bestuur nie - gelukkig help die plattelandse atmosfeer om die stress van die verkeerde kant bestuur makliker te maak.

Ons eet 'n ligte middagete en ongeveer 3 uur ry ons winkels toe om die nodige melk en brood te koop. So 4 uur bel die mans en ons kry hulle by die kaai. Hulle het 'n heerlike dag op die see gehad - blykbaar was dit windstil en verskriklik warm. Hulle het klomp visse gevang maar meeste teruggegooi omdat ons nie juis fasiliteite het om dit te stoor of mense het om dit voor te gee nie. John vang 'n groot Grouper en Derick 'n paar Key west Permits.

Die Grouper wat hulle teruggegooi het het seker 'n goeie 30-35kg geweeg .. dit is nou as ek moet skat ...

Die manne is stokflou en na 'n laatmiddag swem in die swembad gaan ons nou 'n vleisie op die kole gooi .. ek is oortuig dat hulle nie baie laat vanaand gaan hou nie .. die son het hulle alleen gevang op die blou see en die oe hang maar laag.